Die 17e eeuse Franse kerkleier, Fenelon, het gesê:
“Dit is dikwels ons eie onvolmaaktheid,
wat daartoe lei dat ons ander se onvolmaaktheid kritiseer;
ons heldersienende selfliefde,
wat nie die selfliefde van ander kan verskoon nie.”
Ons eie swakhede en foute,
lei daartoe dat ons selfs foute in ander raaksien wat nie eers bestaan nie.
‘n Vrou het gekla dat haar buurvrou se vensters altyd vuil is.
Eendag het ‘n vriendin haar aangeraai om ook haar eie vensters te was.
Sy het die advies gevolg, dit gewas, en uitgeroep:
“Ek kan dit nie glo nie! Net toe ek my vensters gewas het,
het my buurvrou ook haar vensters gewas.
Kyk net hoe blink haar vensters!”
Kritiek verblind ons vir ons eie foute, en ook vir die goeie in ander.
‘n Man het ‘n fontein op die markplein ontwerp en gebou.
Hy is skerp deur ‘n kunstenaar gekritiseer oor sy ontwerp.
Alhoewel hy seergemaak was deur die kritiek het hy gevra:
“Drink mense uit die fontein se spuitkraan?
Koel hulle af in die opvangsgedeelte?
Geniet hulle hulself?
Speel die kinders daarin?”
“O ja!”,hulle geniet dit terdeë!”,
het die kunstenaar geantwoord.
Die ontwerper en bouer was baie dankbaar.
Die fontein het beantwoord aan die doel waarvoor hy dit gebou het.
Ons moet mooi dink voor ons maar net kritiseer.
Ons het eie oortuigings, voorkeure, afkeure, styl,….
wat nie noodwendig reg of normatief is nie.
Soek die goeie in ander, en in wat hulle doen.
Doen ook grondige selfondersoek voor jy kritiseer.
Was eers jou eie vensters.
Ernest