“Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie,
want Daniël was betroubaar.” Daniël 6:5.

‘n Vrou het eendag aan die evangelis, Herb Taylor,
die verkeerde kleingeld gegee.
Hy het nie opgelet nie, dit net geneem, en huistoe gegaan.
By die huis het hy dit ontdek en die som geld teruggeneem na die winkel.
Toe hy by die verkoopsdame aankom en haar daarop wys,
het sy gesê dat sy dit weet.
“Hoekom het jy dan te veel geld aan my teruggegee as jy dit weet?”,
het Herb Taylor gevra.
“Ek was Sondag in die kerk op uitnodiging van ‘n vriendin,
toe jy gepraat het oor betroubaarheid en integriteit.
Ek is nie ‘n Christen nie en wou jou toets of julle is wie julle sê julle is.
Ek wou spesifiek sien of jy lewe volgens wat jy preek.”
Herb Taylor het haar later weer besoek, en haar na die Here gelei.
Dit het hom ook laat besef dat alles wat in ons lewens gebeur,
sê iets oor ons betroubaarheid en integriteit, en ons geloof!

Daniël is ‘n uitstekende Bybelse voorbeeld.
Sy betroubaarheid was sigbaar in sy optredes.
Waar 120 beamptes hom dopgehou het,
was hulle verbaas oor sy betroubaarheid en integriteit.

Ons daaglikse betroubaarheid bevestig die egtheid van ons geloof.
Wanneer ons alles wat ons doen, tot eer van die Here doen,
sal ons betroubaarheid en integriteit ‘n kragtige getuienis van ons geloof wees!

Leef betroubaar.
Leef met integriteit.
Leef so tot eer van God.

Ernest