Psalm 37:23-24 sê:
“Die Here bepaal die koers van die mens
met wie se pad hy tevrede is,
en Hy ondersteun hom.
As so iemand val, bly hy nie lê nie,
want die Here help hom op.”
Ons maak dikwels foute in ons lewe waarin ons leef,
die lewe om God te verheerlik en te eer.
‘n Eienaar van ‘n plaas en sy plaasarbeider het eendag gaan eende jag.
Die plaasarbeider was ‘n Christen, en die eienaar ‘n ateïs.
Die voertuig het ‘n pap wiel gekry, en die arbeider moes die wiel omruil.
In die proses het hy sy vinger raakgeslaan en ‘n vloekwoord uitgeroep.
Hy het dadelik sy baas om verskoning gevra,
en ook hardop eenkant gevra dat die Here hom moet vergewe.
Die plaaseienaar het dit gehoor en gesê:
“Sam, jy is ‘n Christen en kyk hoe moeilik is dit vir jou om dit uit te leef.
Ek is ‘n ateïs, en ek het geen probleem daarmee nie.”
Sam het geen antwoord vir sy baas gehad nie.
Toe daar later eende verbyvlieg, het die eienaar skote geskiet.
Hy het vir Sam uitgeroep:
“Gaan agter die gewonde een aan, Sam, los die dooie een!”
Sam het die spartelende eend gesien, en dit na sy baas gebring.
“Nou het ek ‘n antwoord”, het hy vir sy baas gesê.
“Meneer het gesê die Christendom beteken niks nie.
Ek moet worstel, en Meneer gaan maklik deur die lewe.
Wel, ek is die een met die gebreekte vlerk.
Die spartelende een.
Die duiwel is agter my aan.
Ek léwe, en ek stry om van die duiwel af weg te kom.
Ek wil hom geen vatkans gee nie.
Maar meneer is soos die dooie eend – morsdood.”
En toe haal Sam Psalm 37 aan:
“As so iemand soos ek val, bly ek nie lê nie,
want die Here help my op!”
Ons is swak en val.
Ons begaan baie foute.
Die feit dat ons worstel en spartel,
is juis die teken van léwe!
Deur God se genade staan ons weer op!
Hý help ons op!
Ernest