‘n Bejaarde persoon in Richmond Heights in Missouri,
het verskeie kere die gehoorbuis van sy telefoon in die
oor van President Ronald Reagan van die V.S.A. neergesit.
Die man het nie geglo dat dit regtig die president is
wat met homo or die foon wil praat nie.
Uiteindelik het die operateur en die buurman hom oortuig.
Hy het vir 15 minute met die president gepraat.

Baie eeue gelede het iets soortgelyks gebeur.
Sameul het ‘n onverwagse stem ontvang.
Hy het ook nie besef Wie dit is wat met hom wou praat nie.
Dit was egter die Opperheerser van die heelal!
Toe besef Eli dit is die Here en sê vir Sameul:
“Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy:
“Praat, Here, U dienaar luister.” 1 Sam. 3:8-10.
Toe hy uiteindelik besef dat dit God is, het hy dadelik geluister.

Ons as Christene is dikwels geneig om net so op te tree.
Wanneer die Here met ons praat, wil ons dit nie glo nie,
en ignoreer dit, soos die bejaarde met die president.
Diep in ons hart twyfel ons of dit die Here is wat praat.
En dan, uiteindelik, wanneer ons insien dat dit God is,
en dat Hy self met ons praat, dan is ons selfs verbaas.

God is ‘n persoonlike God.
Hy wil hê ons moet Hom ken en Hom hoor.
Hy praat met ons deur die geskrewe Woord,
maar ook deur die Lewende Woord.
Die Lewende Woord, Christus deur die Gees,
praat nooit anders as die geskrewe Woord, die Bybel nie.
Maar die Heilige Gees praat ook deur medegelowiges,
Goddelike gebeure, wonderwerke, drome….
Die Gees woon in ons,
en maak dit vir ons moontlik om die stem van die Here te onderskei.
God is deurgaans besig om met ons te praat.
Wees deurgaans gereed om Hom te hóór,
en met jou lewe daarop te reageer!

Ernest