Ons moet in Jesus se Naam naastes wees vir ander mense.
In Lukas 10:25-37 lees ons hieroor.

‘n Skrifgeleerde probeer Jesus in ‘n hoek kry met ‘n strikvraag.
Eintlik twee vrae:
Hoe kry ek die ewige lewe?
Wie is my naaste?

Die Skrifgeleerde het geen plan om Jesus se antwoord in dade te gaan uitleef nie.
Hy wil net nog ‘n godsdienstige debat wen.
Hy wil dit veral teen hierdie besondere Persoon wen.

En Jesus begin om vir hom een van die stories van alle stories te vertel.
Die Samaritaan wat so ‘n vreemde ding gedoen het.
Hy stop, heeltemal onverwags, by ‘n Joodse man wat deur rowers aangeval en laat lê is.
‘n Priester en Leviet het alreeds aan die ander kant verbygestap.
Sonder om te dink maak hy sy hande vuil met stof en bloed.
Hy verbind wonde.
Hy betaal met swaarverdiende geld vir herberg vir die Jood.
Maar die meeste van alles: Hy word ‘n vriend vir die Jood.
‘n Nuwe verhouding kom tot stand.
Hy sou op sy terugtog weer daar aandoen om te kyk hoe dit gaan.

Presies so word jy ‘n naaste in Jesus se Naam!
Jy kom tot stilstand in mense se lewe.
Jy help , en dien hulle, ten koste van jouself.
Jy skep en groei verhoudings.

Om ‘n naaste in Jesus se naam te wees, kos ‘n prys.
Egte omgee het nie met logika te doen nie.
Egte omgee kan ook nooit vermors word nie.
Dit het ook nie met beskikbare vrye tyd,
of persoonlike voorkeure, of gerief te doen nie.
Dit kom alles uit ‘n nuwe hart wat deur Jesus aangeraak is.
Die prys wat dit kos, is dat jy jouself elke dag “op die pad na Jerigo” bevind.
Enige oomblik kan jy by iemand moet stop, en hom optel, en verhouding bou.
Of ‘n reeds bekende se las, kom onverwags op jou af.
Die prys om NIE ‘n naaste te wees nie, is egter ondenkbaar duurder.
Vra maar vir die “slim” Skrifgeleerde.
Dit kos jou die ewigheid!

Ernest