Ons is met soveel dinge in hierdie wêreld voluit op spoed.
Maar die probleem is dat ons geloofsgroei dikwels hierin agterweë bly.
Ons hardloop met alles teen hoë spoed en ons energie raak al laer.
Die probleem is dat ons nie geestelik gevoed raak om in die lewenswedloop te bly nie.

Luister net wat sê Paulus in 1 Kor. 9:24-27 en oordink dit goed:
“Julle weet dat al hardloop ‘n klomp mense in ‘n resies,
daar net een wenner kan wees.
Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie.
Leef jou lewe sodat jy wen.
As iemand ‘n resies wil wen, oefen hy eers hard.
Met ‘n gewone resies is die prys vir die wenner klein,
maar in die resies van hierdie lewe,
is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd.
Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan,
om te wen.
Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ookal van my.
Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen,
maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie.”

Paulus gebruik die beeld van ‘n atleet.
Die mense van Korinte het die beeld goed verstaan.
Elke drie jaar het daar in hulle stad die Ismiese spele plaasgevind.
Dit was naas die Olimpiese Spele die grootste in hulle tyd.
Elke deelnemer moes vir 10 maande ‘n strawwe program volg om te kon deelneem.
Dit is in ons sportmal land ook ‘n bekende beeld.
Hóé hard ons sportmanne oefen om sukses te behaal.

Die punt wat Paulus wil maak,
is dat ons ook so toegewyd in ons geestelike lewe moet wees.
Ons kan natuurlik niks daarmee verdien nie.
Maar ons moet by die Here uitkom in ons daaglikse lewe.
Om besig te wees is die grootste vyand van geestelike groei.
Ons is eenvoudig besiger as wat die Here ons wil hê.
Die feit dat ons nie by Hom stilraak en by Hom tot stilstand kom
om Hom regtig te hoor nie, bevestig dit.
Dit help nie ons het al die kennis en toewyding in die lewe nie,
maar kom nie tot stilstand by die Here nie.

Waarop fokus jy?
‘n Groter bankbalans?
Meer geld met aftrede?
‘n Besigheid wat net moet groei en groei?
Sukses in jou beroep?
Wat is sukses?
Waarop fokus jy jou lewe?

Paulus sê ons moet op die eindstreep van die lewe fokus.
Waar ons ewig saam met Jesus gaan leef.
Dit moet jou motiveer om voluit te leef.
Anders mis jy jou doel waarvoor jy geskep is….

Ernest