“Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen;
En hy sal nog groter dinge as dit doen,
omdat Ek na die Vader toe gaan.” Johannes 14:12.

Groot dinge beïndruk ons. Groot prestasies, groot geboue,
groot winste, groot getalle, groot huise, groot spiere…
Ons dink groter is beter.
As daar meer mense in ons kerk is, of aan ons kerk behoort,
is die groter kerk beter, en meer geestelik.
Ons is behep met grootte en getalle.
Daarom wil ons ook “groot” dinge vir die Here doen.

“Groot” dinge vir die Here….Wat is groot…..vir die Here?
Ons moet raaksien dat die meeste voorbeelde wat Jesus vir die kerk gebruik,
op een of twee uitsonderings na, met kleinheid te doen het.

So gebruik ons bogenoemde teks in Johannes 14:12,
ter regverdiging van ons grootheidswaan.
Hierdie teks is juis nie bedoel as ‘n “groter is beter” teks nie.

Johannes 14:12 pas in binne Johannes se verstaan van Jesus,
as die Een wat God se majesteit kom sigbaar maak,
deur agt tekens wat Hy deur die loop van die evangelie verrig.
Hierdie tekens wys ook op Jesus se eie Goddelike almag.
As Jesus hier sê ons gaan dieselfde dinge as Hy doen, en selfs nog groter,
bedoel Hy ons gaan op nuwe maniere in Hom leef ,
sodat God se heerlikheid groot deur ons gaan weerkaats.
In ons word dan lewende bewyse gesien,
van Christus se voortgaande teenwoordigheid in die wêreld,
en hóé Gód werk!

Dit is nie ons wat kragvertonings word nie.
Dit gaan nie oor die groot dade wat óns dan vir Jesus doen nie,
maar oor dit wat Gód deur ons doen, en sy verheerliking van Hómself daarin !
Gód werk deur die gelowiges.
Omdat Jesus sou weggaan, sal die gelowiges die manier word waarop God,
onder andere, sy werke sigbaar doen in hierdie wêreld.
Ons sal dus baie meer werke doen as wat Jesus gedoen het, toe Hy op aarde was.
Maar ons gaan dit verseker nie uit onsself doen nie!
Gód doen dit, deur ons.

Ons is lewende weerkaatsers van wat Gód doen!
Daarin word sý grootheid gesien,
en Hý alleen kry die eer!

Ernest