In Johannes 6:38 sê Jesus:
“Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie,
maar die wil van Hom wat My gestuur het.”

Jesus kom doen nie sy eie wil nie, sê Hy vir die skare in Johannes 6.
Hy kom doen uitsluitlik die Vader se wil!
Jesus is God se gesant op aarde.
Hy kom spesifiek om God se wil te kom doen.
Spesifiek deur God gestuur daarvoor!
Net in die vorige vers 37 word gesê dat God se wil in en deur Jesus gebeur.

God se hemelse wil word na die aarde toe gebring deur Jesus.
Jesus is God se wil in lewende lywe!
God se wil het ‘n Naam: Jesus!
Hy is die Woord, die wil van God, wat mens geword het,
soos Johannes 1:1 dit sê.
Hy kom woon tussen ons om God se wil tot uitvoer te bring.
Jesus het geen agenda van sy eie nie.
Daarom sê Hy in Johannes 5:19 dat Hy niks uit sy eie op aarde doen nie.
Dit wat Hy die Vader sien doen, doen Hy.

Wat doen die Vader wat Jesus op aarde kom doen?
Johannes 5:21-24 sê dit.
Hy kom gee die ware lewe wat sy Vader gee.
Elkeen wat saam met hom in geloof uit die dood opstaan,
kry die nuwe lewe.
So werk God se wil in en deur Jesus.

Is dit ook jou wil, om net God se wil te doen?
Het jy jou eie agenda, of doen jy God se wil?
Jy is ook God se gestuurde in hierdie wêreld!
Gaan leef die wil van God uit.
Stap in die voetspore van Jesus!
Dit wat jy Jesus sien doen, doen dit!

Ernest