Openbaring 4 is ‘n merkwaardige hoofstuk in die Bybel.
Ons lees hoedat God uitbundig aanbid word in die hemel.
Daar word gesing en gejubel oor God se rol as Skepper van hemel en aarde.
Lof aan Hom eggo die ganse hemelruim vol.
Vrolikheid en blydskap triomfeer.
Vreugde in die teenwoordigheid van die Here!
Geen wonder nie dat C.S. Lewis geskryf het:
“Joy is the serious business of heaven.”
In die hemel is daar nie krisisbestuur nie.
Daar is nie noodspanne aan diens nie.
Daar word nie rondgeskarrel om probleme die hoof te bied nie.
Ons hemelse Vader was nog altyd, is tans, en sal altyd in volle beheer wees!
Die hemel weet dit en Sy wil geskied volledig in die hemel.
Maar:
Sy wil is tussendeur ook besig om te triomfeer in die lewens van miljoene op aarde!
Sy koninkryk is sedert Jesus se koms met ‘n opmars besig regdeur die wêreld.
Dit is onkeerbaar. Dit is onstuitbaar.
Dit is hoe God se koninkryk in Jesus gekom het, en steeds besig is om te kom.
God se koninkryk is onverpoost hier op aarde soos mosterdsaad,
soos suurdeeg, soos sout, soos lig aan die werk in die donker wêreld.
Om bly te wees is God se direkte wil.
Dit geskied aanhoudend in sy teenwoordigheid.
Hier op aarde moet dieselfde gebeur.
Blydskap word nie gereserveer vir ‘n paar sonskyndae in jou lewe nie.
Om voor God bly te wees elke dag van jou lewe,
is om in die sentrum van sy wil te wees.
Om te leef met die wete dat Hý ten volle in beheer is!
Fil. 4:4 sê “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Wees bly omdat jy God in die geloof raaksien!
Oral!
Niks kan God keer nie.
Hierin lê jou blydskap!
Ernest