Ons kan ons nie ‘n lewe indink sonder geld nie.
Die probleem is dat ons te veel aan geld dink.
Natuurlik speel geld ‘n groot rol in ons lewens.
Maar die gevaarlike fout wat ons maak is dat geld naderhand ál rol speel.
Sukses word dan gemeet aan hoeveel geld ons het.
En so maak ons naderhand ons geluk afhanklik van geld.
Geld is nie die waarborg dat jy geluk gaan hê, of nie gaan hê nie.
Mense met geld is nie noodwendig ongelukkig nie.
En mense met min geld is nie noodwendig gelukkig nie.
Die vraag is: Wie is jou God?
Jesus het in Matteus 6:24 gesê:
“Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Die praktiese realiteit is dat jy nie geld én die Here kan dien nie.
Watter een kom eerste in jou beginsels? “God”, sê jy?
Vraag is of jou lewe dit ook bevestig in terme van toewyding en getuienis.
Wanneer jy die Here God kies,
beteken dit nie dat jy nie aan geld gaan dink,
en daarmee gaan woeker nie.
Baie mense “maak” juis geld vir God se koninkryk.
Maar wanneer jy God kies,
beteken dit dat jou geluk nie in die eerste plek in geld lê nie,
maar in Hom!
Sal ons nie in wysheid saam met Salomo bid nie:
“…moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën nie.”
Spreuke 30:8.
Ernest