Hoekom sou die Bybel op verskeie plekke die rykes waarsku?
Is dit dan verkeerd om ryk te wees?
Die Here het nooit gesê dat Hy rykes minder liefhet nie.
Hy het alle mense lief.
Hy heg nie kwalifikasies van rykdom of armoede aan mense wat hy liefhet nie.
Hoekom waarsku die Bybel dan teen rykdom?
Omdat die sug na rykdom mense wegtrek van God af.
Liefde vir geld vernietig dikwels verhoudings en lewens.
Paulus skryf hieroor in 1 Tim. 6:10:
“Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad.
Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal;
daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.”
Geld opsigself is nie sleg nie.
Sonde lê nie in die substansie nie, maar in die hart.
Die Bybel vertel van verskeie ryk mense wat God volg,
en met ruimhartigheid dien.
Die probleem is dat ons gou ‘n mag aan geld koppel wat dit sleg kan maak.
Geld kry vir mense ‘n tipe towermag wat deure vir jou oopmaak.
Die onmoontlike lê naderhand vir ons net ‘n paar rand of dollar verder.
Ons móét eenvoudig nog die volgende stap ook neem,
en die volgende, en die volgende…
So groei die sug en soeke na meer en meer.
En ons kom nooit by genoeg nie,….nooit tevrede nie.
Rykdom is ‘n wonderlike en geseënde bate,
wanneer jy dit gebruik om God se koninkryk uit te bou.
Wanneer jy dit gebruik om mense in nood te help.
Ons moet God se hart verstaan.
Hy seën ons om ander te seën!
Iemand het hieroor gesê:
“You can never outgive God!”
Ernest