Dit lyk of Christene nie oor geld kan praat,
sonder om by hierdie vraag te kom nie:
Gee jy ‘n tiende?

Mense verskil baie oor wat ‘n tiende is.
Is dit ‘n tiende van jou bruto, of van jou netto?
Wat dink jy?

Hoekom wil mense dit in die eerste plek vra?
Of dit oor bruto of netto gaan?
Word ons dankbaarheid vir wat God vir óns gee,
nou in óns bruto of netto gemeet?
‘n Tiende is die minste om te gee.
Wil ons dit nou nog verder afskaal met bruto of netto?

God het nie vir ons die riglyn van ‘n tiende gegee om ons in te perk nie.
Hy het dit juis gegee om ons te bevry van ons beangste besorgdheid!
Verstaan ons dan nie?
As jy jou tiende gee, sê jy daarmee dat jy die volste vertroue het dat God,
wat álles voorsien, wéér sal voorsien, en weer, en weer…

“Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe,
sodat daar iets te ete in My huis kan wees,
en toets My hierin, sê die Here die Almagtige.”
Maleagi 3:10.

Ons moenie redeneer wat die minimum is wat ons vir God kan gee nie,
tiende op bruto of tiende op netto nie.
Ons vraag uit dankbaarheid moet eerder wees:
Wat is die maksimum wat ons kan gee?
Ons moenie seën op finansieële gebied bereken nie.
God sal ons omvattend seën.

Ons kan sê ‘n tiende is ‘n aanduiding van jou deel wat God wil gebruik,
om deur jou ‘n verskil te maak in mense se lewens.
Besluit self hoe groot jou tiende is.
Ruimhartig!
Dankbaar!

Ernest