Die kuns is om te weet jy het genoeg.
Of om te weet wanneer jy genoeg het.
Wat vir die een genoeg is, is nie noodwendig vir die ander genoeg nie.
Vir die een kan dit heeltemal te veel wees, en vir die ander hopeloos te min.
Die probleem is die onvergenoegdheid waarmee ons lewe.

Dit ontwikkel veral wanneer jy jouself met ander mense begin vergelyk.
Jy wil ook hierdie of daardie lewensstandaard hê.
Dit bring mee dat ons selfs onnodig op skuld begin lewe.
Oordeelkundige skuld, soos om ‘n woonplek binne jou vermoë te koop, maak sin.
Maar skuld bo jou vermoë, op dinge wat nie regtig nodig is nie, verslaaf jou.
Daarom sê Spreuke 22:7 hieroor:
“Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.”
Skuld kan ‘n maniese monster word wat jou van jou lewenslus beroof.

Verder laat die wêreld deur advertensies jou glo
dat jy eenvoudig nie sonder sekere goed kan klaarkom nie.
Maar die adverteerders betaal dit nie!
Hulle laat jou selfs glo dat die goed wat hulle adverteer
jou gelukkig sal maak en gelukkig sal hou.

Kom ons onthou weer die gebed van Agur in Spreuke 30:8:
“…moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën nie.”

Hierdie gebed bring die perspektief van balans.
As jy arm is, doen jy dalk verkeerd uit jou nood,
en as jy ryk is, doen jy dalk verkeerd vanuit jou oorvloed.
Genoeg is om jou beste te gee,
en tevrede te wees met wat jy van God ontvang.
Genoeg is om tevrede te wees met wat God gee.

Ernest