Dit is natuurlik die werk van die Heilige Gees,
wat mense in hul hart oortuig om in Jesus Christus te glo.
Maar ons moet mense hiervan vertel,
en alles doen wat ons kan om mense na die Here te lei.
Paulus skryf in 2 Kor. 5:11:
“Ek het groot eerbied vir die Here.
Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo.
God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk….”
In vers 14 sê Hy dat Christus se liefde ons aanvuur hiervoor.
Mense wat entoesiasties is vir die Here,
loop altyd die risiko dat louwarm mense sal dink hulle is oor die grense.
Grense van fatsoenlikheid is dikwels vir mense belangriker,
as om grense vir die Here oor te steek om mense vir Hom te wen.
Lees maar Hand. 26:24 waar Paulus dit aan sy lyf voel.
Hy verdedig sy saak en die saak van die evangelie,
en dan skreeu Festus kliphard: “Jy’s van jou kop af, Paulus!
Jou baie studies het jou kop deurmekaargekrap.”
Mense het ook so oor Jesus gedink in Markus 3:21!
En dit is sy eie familie! Hulle sê van Hom :
“Hy is skoon van sy wysie af.”
Is ons bereid om grense van tradisies, en kultuur,
en fatsoenlikhed oor te steek, ter wille van die evangelie?
Of wil ons eerder in ons gemaksones baai….?
Laat Christus se liefde jou aanvuur om grense oor te steek,
vir die koninkryk van God!
Ernest