“Verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig.”
2 Tim. 4:2
Staan op vir dit wat jy glo.
Meer nog, staan op vir in Wie jy glo!
Johannes Hus het gelewe tussen 1369 en 1415.
Hy het baie gewaarsku teen die verkeerde goed waarmee die kerk besig was.
Hy het opgestaan vir sy geloof,
en dat die Woord nommer een in die kerk moet wees.
Die pous het glad nie van Johannes Hus se standpunt gehou nie.
Toe Hus verder die pous daarvan beskuldig dat hy homself verryk,
was die pous woedend.
Almal het besef dat Hus se lewe om die rede in gevaar was.
Hulle het hom gewaarsku om nie na ‘n sekere kerkvergadering te gaan nie.
Hy het hulle egter geantwoord:
“Dit is beter om goed te sterwe as om sleg te lewe.”
Hus het gehoop die mense in die vergadering sal na die waarheid luister.
Hulle het hom egter in die tronk gegooi oor sy sogenaamde leuens.
Hus is voor ‘n keuse gestel.
As hy ophou preek sal hy bly lewe.
Hy het hulle egter geantwoord:
“Ek sal die waarheid van die Bybel tot die dood toe verdedig.”
Dit was sy doodsvonnis.
Hy moes op die brandstapel sterf vir sy oortuigings,
en omdat hy aangehou het om die Woord van God te verkondig.
Terwyl hy in die vuur gebrand het,
het hy die Geloofsbelydenis hardop gesê.
Johannes Hus word juis as martelaar onthou vir sy geloof,
en die uitleef daarvan.
Gaan lééf en verkondig die Woord.
Tydig en ontydig.
Ernest