“Kom ek verduidelik weer vir julle wat die Here self oor die nagmaal gesê het.
Jesus het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê.
Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit.
Terwyl Hy dit doen sê Hy:
“Dit is my liggaam wat net so gebreek word.
Julle sal baie daarby baat.
Elke keer as julle dit eet,
moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.”
Toe hulle amper klaar geëet het,
vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is.
Toe sê Hy:
“Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms
wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het.
Drink die wyn, en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.”
Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid, totdat die Here terugkom.”
1 Kor. 11:23-26.
Die nagmaal is die wonderlikste ete wat daar is.
Om te eet en drink op die ware lewe!
Aartsbiskop William Temple help ons om dit te verstaan as hy sê:
“Ons sonder sekere plekke af as heilig,
nie om daardeur ander plekke as onheilig te beskou nie,
maar om ons te herinner aan die heiligheid van alle plekke.
Ons maak sekere kos en drank (brood en wyn) heilig,
nie om daardeur te sê ander kos en drank is onheilig nie,
maar om ons te herinner dat al ons kos en drank ons moet opbou,
as lede van die familie van God…die liggaam van Christus.”
Ons viering van die nagmaal sal niks beteken,
as ons nie ook die nagmaal vind dáár waar ons elke dag lewe nie.
Daarom is die groot vraag waarmee die nagmaal ons altyd konfronteer nie:
Wat maak ons met die nagmaal? nie,….maar,
Wat maak die nagmaal met ons?
Ernest