Ons hoor dikwels dat ons moet lewe “volgens God se wil”.
“Wat is God se wil vir my lewe?”, is dan die vraag wat ons vra.
Die probleem met hierdie vraag,
is dat die meeste mense nie regtig Gód se wil wil weet nie,
maar God se wil vir mý lewe.
Mý lewe…en God se wil.
Ons wil seker maak dat daar ‘n goeie plan en sukses is, vir mý lewe.
Dit is nie verkeerd nie.
Maar dit is ‘n beperkte lewensperspektief.
En dit kan oorgaan in selfgerigtheid.
Die probleem is dat ons kyk vanuit die perspektief van onsself,
en nie vanuit God se perspektief nie,
wat in die eerste plek vir sy koninkryk belangrik is nie.
Dit is om soos ‘n mier na die wêreld te kyk,
in plaas van om soos ‘n mens na die wêreld te kyk.
En dan nog ‘n nuutgemaakte mens!
God se wil is wat Hý graag wil doen.
En God kan doen wat Hy wil, want Hy is God.
Tog wil God ons deel maak van sy liefdeswerk op aarde.
Maar God wil hê jou lewe moet inpas in sý wil.
Dit gaan nie oor hoe sy wil inpas in jóú lewe nie.
Hoe pas jy in, in die doel wat Hy vir die hele heelal het?
Ek is maar ‘n klein ratjie in die hele groot geheel.
Tog het God my oneindig lief, en maak my sy kind!
Maar ek word nie nou die middelpunt nie.
Die sonnestelsel draai nie om my nie.
Nog minder die God van die heelal.
Alles gaan oor Hom!
Alles draai om Hóm!
Die vernaamste manier om uit te vind wat God se wil is,
begin by jou hart.
Bekeer jou, en wy jouself toe aan die Here.
Wees diep in jou hart grondig daarvan oortuig,
dat dit beter is om die Here te volg, as om jouself te volg,
en beter is om die Here te dien, as om jouself te dien.
Die wesentlike van jou verhouding met God, en God se wil,
is om jouself aan Hom te gee,
as lewende en heilige offer. Rom. 12:1-2.
Dit gaan nie oor wat Hy vir jóú gee nie.
Vra die vraag: Wat is Gód se wil?
En minder die vraag: Wat is God se wil …vir mý?
Fokus op Hom, nie op jouself nie.
Ernest