Hoe leer ken ek God se wil?
God openbaar Hom op verskillende maniere aan ons.
Die Bybel is onontbeerlik om God se wil te leer ken.
Die Bybel gee riglyne hoe die Here wil hê ons moet lewe.
Die Bybel gee ook sleutelbeginsels vir die lewe.
Daarom sê 2 Tim. 3:16-17:
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde,
om in die waarheid te onderrig,
dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel,
en ‘n regte lewenswyse te kweek….”
Lees die Bybel biddend,
en sensitief vir die leiding van die Heilige Gees.
Soms praat die Bybel direk en gee beginsels.
Ander kere gee dit riglyne.
Dit is nie altyd net ‘n swart-wit onderskeiding nie.
Gebed is ook onontbeerlik om God se wil te leer ken.
In gebed kan ons in pas kom met God se wil.
Gebed is nie net ‘n praat met God en ‘n lys van versoeke nie.
Dit is ook nie armdruk met God om my wil te laat geskied nie.
Gebed is veral ook stil raak in God se teenwoordigheid om Hóm te hóór.
Om as’t ware op God se golflengte ingestel te raak deur die Gees.
God hoor alle gebede, maar verhoor die wat op sy wil ingestel is.
As iets nie gebeur soos ons bid nie,
kan ons weet dat dit nie op die oomblik inpas by God se wil nie,
of dalk gladnie inpas by God se wil nie.
God weet beter wanneer en wat moet gebeur.
Ons gebede bring ons juis nader aan die ontdekking van sy wil.
Wees sensitief daarvoor of jou oortuiging oor iets regtig God se wil is.
Moenie klaar besluit oor God se wil,
en dan net sy goedkeuring daarop gaan soek in Bybeltekste nie.
Dit is nie altyd so eenvoudig of maklik om te sê iets is God se wil,
of nie sy wil nie….
Dit is ‘n voortdurende groeiproses,
in ‘n lewe naby aan die Here.
Ernest