My gewete speel ook ‘n rol in die herkenning van God se wil.
Moenie eenvoudig jou gewete ignoreer nie.
Hoe meer jy jou gewete stilmaak,
hoe makliker gaan jy die verkeerde koers inslaan.
Die Heilige Gees praat ook deur jou gewete.
1 Joh. 3:21-22:
“Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie,
het ons vrymoedigheid om na God te gaan;
en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam,
en doen wat Hy goedvind.”
Bly voed jou gewete deur God se Woord en God se beloftes.
Gesels ook met medegelowiges daaroor.
Gee beheer van jou hele lewe oor aan die Heilige Gees.
Ons gewete word maklik deur ons sonde aangetas.

Omstandighede wys ook dikwels God se wil.
Ons praat maklik van ‘n deur wat vir ons oopgaan of toegaan.
Dikwels wil ons ‘n deur oopforseer wat die Here juis vir ons toe hou.
Wag op die Here en sy tyd en geleentheid.
Dikwels wys die Here vir ons ‘n deur wat wawyd oopstaan.
Omstandighede wys dan duidelik in watter rigting God ons wil laat gaan.
Ander kere laat die Here ons eers aan ‘n deur klop,
en die handvatsel draai, voordat dit oopgaan.
Hy toets ons erns en bereidwilligheid om daardie pad te loop.
Hy versterk ook so ons karakter vir die krisisse wat op daardie pad gaan opduik.
God gebruik goeie en slegte omstandighede om ons sy wil te wys.
Soek in geloof na God se wil in jou omstandighede.

“As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.
Wie tot God nader moet glo dat hy bestaan,
en dat Hy die wat Hom soek, beloon.”
Heb. 11:6.

Ernest