Ons het dikwels die idee dat God daar ver is.
Ons praat oor Hom met woorde soos “onpeilbaar,
ondeurgrondelik, almagtig, onveranderlik…”
Ons dink dat sy planne klaar gemaak is.
Dit is reeds in die ewigheid afgehandel.
Ons is maar net die geredigeerde eindproduk daarvan.
Dit is waar dat God ‘n paar vaste planne in die ewigheid maak.
Dit is waar dat God self in sy wese onveranderlik is. Goddank!
Maar dit beteken nie dat God elke stukkie detail van ons lewens,
en van die wêreld onderweg na die wederkoms,
klaar tot in die fynste besonderhede uitgewerk het nie.
So lees ons byvoorbeeld in die boek Jona hoe God Nineve begenadig,
wanneer hulle hul bekeer, en na Hom toe draai.
Jona het juis gedink hy gaan verkondig maar net God se oordeel aan hulle.
Kant en klaar,…hulle het nie ‘n kans nie, …God het klaar besluit.
Dit was toe nie soos Jona gedink het nie.
God kan van plan verander.
‘n Wonderlike teks in die Bybel,
wat dit verduidelik dat God steeds besig is om nuwe planne te maak, is Jeremia 18.
Jeremia het vir langer as veertig jaar opgetree,
in die tyd toe Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes is,
in ongeveer 586 voor Christus.
In opdrag van die Here moet hy ‘n pottebakker gaan besoek.
Die Here wil hom iets laat beleef van hoe Hy met ons werk.
Daar sien Jeremia hoe die pottebakker se ding, wat hy besig is om te maak, misluk.
Ons kan in ons verbeelding sien hoe die pottebakker die klei saampers,
en weer van voor af begin om die ding te maak.
Jeremia 18:4 sê:
“Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk,
en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.”
Die Here vra dan in vers ses:
“Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie?....
Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in My hand….”
Vers 8 sê dan dat die Here afsien van sy oordeel,
as ons ons bekeer van ons verkeerde lewe.
God kan en wil met elkeen van ons óór begin, en vóór begin.
Moenie moedeloos raak nie.
Nooit nie.
God se planne vir jou is nie klaar gemaak,
en jy is maar net die geredigeerde eindproduk daarvan nie.
God is dinamies, en bly dinamies besig met jou.
Hy is die Pottebakker.
Jy is die klei in sy hand.
Hy is jou Skepper en Herskepper!
Wees opgewonde oor die feit dat jy in sý hand is.
Hy bly besig met jou, om jou te vorm na sý wil.
Ernest