God is dinamies besig met ons.
In Jeremia 18:11 sê die Here:
“…Ek is besig om ‘n besluit te neem oor julle…”
Die woorde “besig om ‘n besluit te neem” is baie betekenisvol.
Dit dui daarop dat die Here steeds in ‘n proses van besluitneming is.
Daarom sê Hy verder in vers 11 vir hulle:
“Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer.
Maak julle lewe en julle dade reg.”
Dit is wonderlik om te besef God is dinamies besig met ons.
Ons moet besef dat God alles behalwe staties is!
Hy het nie kant en klaar besluit,
en nou moet ons maar net sy planne willoos en gehoorsaam uitvoer nie.
God se “oorhoofse” plan is dat alle mense gered word,
en tot kennis van die waarheid kom.
Hy is sonder twyfel met die skepping op pad na die wederkoms van Jesus Christus.
Op hierdie pad is God dinamies met ons besig.
Daarom is die Bybel vol voorbeelde van mense
wat met God worstel in gebed oor sy wil.
Voorbeelde van hoe God afsien van oordeel,
en in genade en liefde optree.
Die groot boodskap van Jeremia 18 is dat God sy planne kán en sál verander,
in die lig van sy wil om mense te red.
Daarom is ek nie ‘n willose en passiewe slagoffer,
van een of ander deterministiese, voorafvervaardigde hemelse plan nie.
Daarom is vandag, hiér en nóú, lewensbelangrik.
Ons moet vandag binne God se wil leef.
Elke dag is ‘n nuwe dag in God se koninkryk.
Elke dag is propvol nuwe moontlikhede,
om vir God te leef, en sy wil te laat grondvat in hierdie wêreld.
Elke dag begin die lewe oor!
Elke dag begin die lewe as’t ware van voor af.
God begin elke nuwe dag wéér met jou.
Kies vandag, van voor af, om vir God te lewe.
Kies dit doelbewus elke dag.
Ons leef nie op “auto-pilot” nie!
Ernest