Filippense 3:20 sê ons is burgers van die hemel.
As gelowiges in Jesus Christus is ons burgers van die hemel.
Nogtans tree ons dikwels op asof hierdie wêreld ons tuiste is.
‘n Britse militêre offisier was gestasioneer in Midde-Afrika.
Hy was bekend daarvoor dat hy een maal per week sy formele drag aangetrek het,
en aan tafel in sy tent aangesit het vir ete, met silwerware en al as eetgerei.
Hy het verduidelik:
“Een maal per week volg ek hierdie roetine,
om myself daaraan te herinner dat ek ‘n Britse burger is.
Ek wil graag my identiteit en die standaarde van my tuisland handhaaf.
Ek wil voorkom dat die vreemde kultuur waarin ek leef dit verdring.”
Christene moet nie uit die wêreld onttrek nie.
Ons is juis suurdeeg, sout en lig in hierdie wêreld.
Maar tog moet ons ook onthou waar ons burgerskap werklik lê.
Ons ware burgerskap is in die hemel, en nie op die aarde nie.
Ons moet waak dat die wêreld nie ons ware identiteit verdring nie.
Daarom sê Romeine 12:2 ook:
“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Ons moet anders as die wêreld leef.
Ons moet so leef dat die wêreld sien aan Wie ons behoort.
Ernest