Volgelinge van Jesus keer die wêreld en die wêreldse waardes om!
In Handelinge 17:6-7 lees ons reeds daarvan:
“Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring.
Hulle is nou hier in ons stad, en Jason het vir hulle huisvesting gegee.
Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette,
en sê dat daar ‘n ander koning is, Jesus!”
Paulus praat hier oor sy werk in die Masedoniese stad Tessalonika.
Paulus het vir drie sabbatte die Evangelie in die sinagoge verkondig.
Mens kan jou net voorstel dat dit elke keer ‘n witwarm bespreking was!
En toe breek ‘n groot oproer uit!
Dit gebeur omdat baie mense tot inkeer kom.
‘n Klomp Jode het die inwoners dadelik teen Paulus hulle begin opstook.
En so het ‘n oproerige skare opgeruk na die huis waar Paulus tuisgegaan het.
Dit klink omtrent soos ‘n nuusberig in vandag se koerant.
Die eienaar van die huis was Jason.
Paulus en Silas was nie daar toe die skare daar aankom nie.
Toe het die skare net daar op die plek vir Jason gegryp.
Hulle sleep hom na die stadsvaders toe.
Die aanklag teen Paulus hulle is dat hulle besig is om die wêreld om te keer!
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die keiser se voorskrifte oortree.
Hulle sê Jesus is Koning!
Is dit nie die mees getroue en mooiste aanklag teen Christene nie!
Hoor weer: “Hulle bring die wêreld in beroering!”.
Die rede: Hulle bely dat Jesus hulle Here en Koning is,
en niemand anders nie!
Christene keer die wêreld om.
Waar Christus is, lyk dit anders en is dit anders.
Hy is aan die stuur van mense se lewens.
Waar hy deur sy Gees regeer keer hy dinge om.
Hy doen dit deur sy volgelinge.
Verstaan jy dit? Beleef jy dit ook?
God se wil is dat geen Christen se lewe ooit kan bly soos dit was nie.
Christenskap is nie grimering nie.
Dit is nie kosmetiese verandering nie.
Dit is lewensveranderende omwenteling.
Is dit waar van jou lewe?
Ernest