Vra maar vir Paulus, en ook vir Jason, daar in Tessalonika.
In Handelinge 17 vertel Lukas hoe Paulus binne drie weke ‘n dinamiese
geloofsgemeenskap van Jesus-volgelinge op die been gebring het.
Handelinge 17:8 sê:
“Die mense en die stadsbestuur was ontsteld toe hulle dit hoor.”
Hulle woorde en dade het regdeur die stad effek gehad.
Maar, soos altyd, het die wat jaloers was in opstand gekom.
Jason is gevang, en hulle is met die stadsowerhede afgedreig.

Egte geloof het effek en is gevaarlik.
Dit maak baie mense wat nie glo nie smoorkwaad.
Interessant was dat die wat die Christene die eerste vervolg het,
nie die gewone burgers was nie, maar die wie se magsbelange bedreig is.
Dit was die sinagoge-hoofde, en leiers van godsdienstige bewegings.
Mense wat die meeste sou verloor as gevolg van die vroeë kerk.

Paulus het hierdie woede aan sy eie lyf gevoel.
Maar dit is die prys wat die Evangelie vra,
met die lewensveranderende effek wat daarmee gepaard gaan.
Elke navolger van Christus wat volkome en volspoed binne God se wil leef,
sal een of ander tyd teenstand beleef.
Moenie daarvoor terugdeins nie.
Christene word nie deur die wêreld beskou as ‘n aangename geur nie.
Christene sal ook onregverdig ly.
Christus is ons voorbeeld.
Hy het in ons plek onregverdig gely.
Dikwels is dit in donker en swaar tye,
wat die geloof deurbreek soos die son.
Dit is wanneer ons die moed het om enduit
vas te hou in wat en Wie ons glo.
Juis dan breek die Evangelie deur na mense.

Leef jou geloof enduit met effek!

Ernest