Ons hoor van kleins af dat God orals is, en in alles.
En dit klink aanvanklik vertroostend.
Maar, dan kom die ebgety, die lae gety,
wanneer dit voel of alles van jou af wegvloei.
Dit dreineer jou.
Jy weet dat God orals is, en jy dink aan Prediker 3:11:
“…Tog kan die mens die werk van God,
van begin tot einde, nie begryp nie.”
En jy begin God soek.
Jy soek in jou, om jou,…en vind Hom nie.
Jy begin redeneer met jouself.
Jy wil jouself oortuig dat God tóg daar is.
En dit is hier waar die bose op sy beste raak.
Hy is immers die vader van die leuen.
En hy konfronteer jou met die vrae:
“As God dan in hartseer en in vreugde,
in gesondheid en in siekte,
in welvaart en in armoede is,
is Hy dan hoegenaamd êrens?”
Kort voor lank begin jy met die filosoof Sartre saamstem.
Jy sien die gat in die grond, jy sien die niks, en dis vir jou God…
Hy is nêrens te vind nie…

C.S. Lewis het hieroor geskryf in The Screwtape Letters.
Die senior duiwel leer die junior duiwel om God se kinders te kasty.
Wanneer die gelowige op die punt kom soos hierbo beskryf,
dan is die junior duiwel baie opgewonde dat hy slaag.
Die senior duiwel vermaan hom egter. Dit is nie hy wat so goed vaar nie….
Hul groot Vyand, God, gebruik heel dikwels sulke laagtepunte
in sy kinders se lewe om hulle vaster aan Hom te bind!
God gebruik meer laagtepunte as hoogtepunte,
om sy kinders geestelik te laat groei.
Screwtape sê vir die junior, Wormwood,
dat dit in sulke tye is wat God sy kinders leer staan, en leer loop!
Sulke laagtepunte is vir duiwels gevaarlike punte.
Dit is dan wanneer God se kinders meer as ooit na Hom soek,
en in Hom groei!
Dan moet duiwels al hul truuks gebruik om ‘n kind van God te mislei.

Ons het as kinders van die Here ervaring hiervan.
Die bose begin met ons kop smokkel.
“Is dit alles nog die moeite werd?”
“Hoekom “vind” ek God nie as ek Hom die nodigste het nie?”
Die bose probeer ons dan wegwerk van geloofsvertrou af.
Hy wil ons nou “rasioneel” laat dink.

Onthou in die heel moeilikste tye,
die regtig heel moeilikste tye,
dat God ewe veel daar is, by jou,
as in die tye wat jy Hom gladnie gemis het nie!

Ernest