Die Duitse teoloog Schleiermacher gee perspektief daarop,
dat God ewe veel teenwoordig is in alle omstandighede,
waarin ons onsself ookal mag bevind.
Hy gebruik Prediker 3 se tydrooster daarvoor:
‘n Tyd om gebore te word, en ‘n tyd om te sterwe,
‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing,
‘n tyd om te lag en ‘n tyd om te huil.
Schleiermacher sien iets hierin raak wat baie belangrik is:
Ons het gewoonlik nie moeite om te glo dat God
teenwoordig is wanneer dit goed gaan nie.
Dan sê ons: die Here seën ons met reën,
of winste, of gesondheid, of geluk…
Maar as dit sleg gaan, dan begin ons skielik twyfel.
Schleiermacher sê ons moet onthou dat God homself nie oortref nie.
Hy kan nie in die goeie meer teenwoordig wees as in die slegte nie.
Hy is nie in die omhelsing meer teenwoordig as in die afstand nie.
In die lag meer as in die traan nie.
Hy is ewe veel teenwoordig.
In geboorte en in sterwe.
Dit is eerder tye wanneer ons God “se hand los”,
wat ons Hom minder teenwoordig ervaar.
Maar Hy los ons nie!
Dit is tog wat geloof is, sê Hebreërs 11:1,
om te hoop op wat ons nie sien nie, om teen alle hoop in te hoop;
om seker te wees van die dinge wat ons níé sien nie.
Wanneer ons die ebgety beleef,
die lae gety waar dit voel of alles van ons af wegvloei,
is dit die tyd om te gló!
God bly nog steeds ons Vader.
Hy beproef ons nie bo ons vermoeë nie.
Die ebgety sal ook tot ‘n einde kom.
Die gety sal weer inkom.
Ons sal weer in die hoogwater baljaar!
Ernest