Span die seile elke dag, sodat jy elke dag vorentoe kan lewe!
Doen dit met moed, vasberadenheid en daadkrag.
Dit is wat die Heilige Gees jou elke dag wil gee!
Span jou seile sodat die stukrag van die Heilige Gees daarin kan bult!
Admiraal Columbus het elke dag in sy dagboek geskryf:
“This day we sailed on!”
Dit is merkwaardig dat Columbus sonder ‘n kaart,
sonder geriewe, en sonder ondersteuning van sy manskappe,
elke dag net reguit vorentoe gevaar het.
Om Indië te bereik, deur Wes te vaar van Europa af.

Dit is ook wat Paulus bedoel as hy in Fil. 3:13-14 sê:
“…ek maak my los van wat agter is,
en strek my uit na wat voor is.
Ek span my in om by die wenstreep te kom…”

Dit is juis omdat hy die einddoel nog nie bereik het nie,
dat hy hom so inspan.
Die wêreld en sy eie lewe lyk nog nie soos wat
die Here wil hê dit moet lyk nie.
Daarom is daar vir hom sin in elke dag se lewe.
Sy roeping bly vir hom vars.
Die hele brief aan die Filippense word uit die gevangenis geskryf!
En tóg is dit vol van hierdie moed,
vasberadenheid en daadkrag, om voort te seil !
Selfs al sien jy net die uitgestrekte see, en geen land nie!

Span jou seile!
God is daar!...bý jou…ín jou!
Hy wil jou seile vul met die stukrag van die Heilige Gees!

Ernest