Die bekende woorde van die Ou-Vertaling
het in 2 Sam. 22:30 gesê:
“Met my God loop ek ‘n bende storm,
en met my God spring ek oor ‘n muur!”
Die Nuwe Vertaling sê:
“Met U hulp loop ek ‘n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.”

In sy eerste toespraak,
as president van die Verenigde State van Amerika,
het Franklin D. Roosevelt vir sy moedelose en werklose volk
in die 1933 depressie gesê:
“Die enigste ding wat ons hoef te vrees, is die vrees self.
Daardie naamlose, onredelike, ongeregverdigde terreur,
wat die noodsaaklike pogings om agteruitgang in vooruitgang te omskep, lamlê.”

Seil voort!
Moenie vrees nie!
Ook hierdie storm waarin jy is,
en ook die muitery van jou gees, sal verbygaan.
Moenie die seile moedeloos laat sak nie.
Moenie dat moedeloosheid, vrees,
en daadloosheid jou oorrompel nie.
Môre moet my elke keer verder vind,
as wat vandag my agtergelaat het, op my pad vorentoe.
Verder uit depressie, of moedeloosheid, of uitsigloosheid…
Môre moet my vind waar ek uitroep: “Seil voort!”
Môre aand moet ek, soos Columbus, in my dagboek kan skryf:
“This day we sailed on!”
Jy sal dit elke dag kan doen as jy onthou dat God nóú by jou is,
en dat Hy ook reeds in jou môre is.
Uiteindelik wys hy jou ook die land waarheen jy op pad is.
Wat net buite jou sig agter die horison lê.

Dawid het dit ervaar.
En Paulus, wat selfs skipbreuk gely het.
Gestenig is, en vir die dood agtergelaat is in Listre.

“Today, and tomorrow, we will sail on!”

Ernest