Jesus het mense aan die hand van hulle diens beoordeel.
Jesus beoordeel nie mense aan die hand van hul status nie.
Die wêreld beoordeel mense aan hoeveel aanhangers hulle het.
Selfs Jesus se dissipels het gestry oor die voorste plekke in sy koninkryk.
Mense wil belangrik wees, maar hulle wil nie dien nie.
Hulle wil eerder leiding neem in diens,
en selfs eerder ‘n diensleier wees, as ‘n dienskneg.

Om werklik ‘n dienskneg van Christus te wees,
vra dat jy jouself verloën om Hom te volg, sê Lukas 9:23-24.
En kyk net hoé moet ons Hom volg, volgens Johannes 13:14:
“As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is,
dan julle voete gewas het, dan behoort julle ook mekaar se voete te was.”

Jy moet die hárt van ‘n dienaar hê.
Dit vra ‘n karakter wat iets van Christus vertoon.
Ware dienaars doen wat nodig is en gedoen moet word,
al is dit nie hulle primêre aanleg en voorkeur nie.
Hulle is nie vas aan hul eie agenda vir hul lewe nie,
maar sien raak waar God wil hê hulle moet dien.
Hulle ontdek wanneer jy ander dien, dien jy God!
Soos die Here, raak jy sensitief vir mense,
en hul behoeftes en nood.
Baie diensgeleenthede, ja die meeste,
kom net een keer in jou lewe op jou pad.
Maak die beste gebruik van elke só ‘n geleentheid.

Moenie uitstel om te dien omdat jy dink jy kan dit nie goed genoeg doen nie.
Dit gaan nie vir die Here oor uitnemendheid nie.
Daarom moet jy nie traag wees om betrokke te raak nie.
Die Here is tevrede met jou opregte hart, en dit wat jy kan doen.
Hy het deur die eeue, soos met sy dissipels,
gewone mense gebruik om ‘n reuse verskil te maak.
Selfs Paulus moes leer dat wanneer hy swak is, is hy sterk! – 2 Kor. 12:10.

Geen taak is ook te gering as jy dien nie.
Niks was benede Jesus nie.
Daarom staan Hy self van die tafel af op,
kniel by sy dissipels se voete, en was hulle.
Getrouheid in alle dienswerk skep juis die “groot” geleenthede.
Ons dien nie om erkenning te kry nie.
Paulus sê daarom in Gal. 1:10:
“As ek nog steeds die guns van mense soek,
sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”

Dien!
Want jy dien daarmee die Here!

Ernest