Die gesindheid waarmee jy vir die Here iets doen,
is vir die Here baie belangriker as wát jy doen, of dát jy iets doen.
Ons sondig baie meer deur ons gesindheid, as deur ons optrede.

Filippense 2:3-5:
“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie,
maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.
Dieselfde gesindheid moet in julle wees, wat ook in Christus Jesus was.”

Toets jou optrede in diens van die Here aan vyf vrae:

Weerspieël jy in jou optrede die identiteit en beeld van Christus?
‘n Dienaar dien nie vir erkenning, status, of materieële gewin nie.
Ons is dikwels beeldpoetsers in ons dienswerk,
in plaas van skoenpoetsers, wat soos Jesus voete was.
Mense wat veilig voel in hulleself, en ontdek wie hulle in Christus is,
dien meer en meer opreg.
Moenie dink hoe jou dienswerk vir die Here deur ander mense se oë lyk nie.

Dink jy meer aan ander, of meer aan jouself?
Jy hoef nie minder ván jouself te dink as jy dien nie, maar net minder áán jouself.
Dan konsentreer jy meer op ander se behoeftes, daar waar die Here jou wil hê.
Selfverloëning is baie belangrik in dienswerk vir die Here,…om van jouself te vergeet.

Onthou jy dat dit die Here self is wat deur jou wil werk?
Hy besit alles van jou! Dit is nie “joune” wat jy aan Hom leen,
of vir Hom opoffer, en daarmee vir Hom ‘n guns doen nie.
Jou gesondheid, jou tyd, jou besittings,
en al die ander dinge het Hý aan jou toevertrou,
om dit op ‘n verantwoordelike wyse vir Hóm te bestuur.

Fokus jy op wat jy vir die Here moet doen, of vergelyk jy jou met ander?
‘n Dienaar is ‘n medewerker van die Here!
Jy werk, in sy genade, saam met Hóm, aan dit wat Hý besig is om te doen.
Jy ding nie mee met ander medewerkers nie, maar vorm sáám Gód se span!
Dien die Here, en moenie ander in die span beoordeel nie.
Hanteer kritiek wat na jou toe kom met liefde, onder leiding van die Heilige Gees.
Wanneer jy wéét dat jy die Hére dien met ‘n opregte hart,
sal kritiek jou nie maklik van stryk bring nie.

Is jou dienswerk, jou bediening, vir jou ‘n voorreg of ‘n plig?
Psalm 100:2 sê:
“Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!”
As dit nie so is nie, en jy dien die Here uit plig,
mis jy die sin van jou dienswerk.
Jy dien uit dankbaarheid vir wat jy reeds van die Here ontvang het,
en nie om enige iets te verdien of te ontvang, by Hom, of enige iemand anders nie.

Die gesindheid waarmee jy iets vir die Here doen,
is vir die Here belangriker as dát jy dit doen.
Kol. 3:23:
“Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here, en nie vir mense nie.”

Ernest