Hudson Taylor het gesê al God se reuse, was ook swakkelinge…
Paulus sê in 2 Kor. 13:4:
“En in Christus is ons ook swak,
maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.”

Hoewel jy op jou sterkpunte konsentreer wanneer jy dien,
is die wonder dat God ook jou swakhede tot sy eer kan gebruik.
So het Hy met Abraham, Moses en Gideon gedoen.
God word nie deur die krag of onafhanklikheid van mense beïndruk nie.
Mense wat hulle swakhede erken, vaar beter in diens van die Here.
Daarom begin Jesus sy onderrig aan sy dissipels met Matteus 5:3:
“Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Ons moet in ons dienswerk nie op ons eie vermoëns fokus nie, maar op die Here.

Ons is maar almal kleipotte wat maklik breek, sê 2 Kor. 4:7.
Daarom moet ons ook vrede maak met ons swakhede.
Paulus begelei ons ook hierin in 2 Kor. 12:9-10.
Sy swakhede laat hom besef hoe afhanklik hy van God en van ander mense is.
Dit help hom om simpatie met ander mense se swakhede te hê,
ook in dienswerk vir die Here.
Dit help ons om sáám met die regte gesindheid die Here te dien.

In ons dienswerk moet ons die belangrike vraag vra:
Wil ons mense beïndruk, of ter wille van die Here mense beïnvloed?
As ek mense ter wille van die Here wil beïnvloed,
moet ek my skild laat sak, en my masker afhaal.
Natuurlik sal dit my weerloos laat voel, en my kwesbaar maak.
Maar weerloosheid ontlont jou vrese.
Dit verlig jou spanning en bevry jou emosioneel.
En dit bemoedig ander mense as hulle sien dat jy juis ook in jou swakheid dien.

Sterkpunte lok mededinging uit.
Swakpunte skep intimiteit.
Dit help nie dat ons mense op ‘n afstand beïndruk nie.
Ons moet naby mense kom om hulle te kan beïnvloed.
Ons is nie volmaak in ons dien van mekaar nie,
maar ons moet geloofwaardig daarin wees.

Wanneer ons alles in ons dienswerk wil beheer, of te sterk in onsself wil wees,
dan is ons nie klei in die hande van die Here waarmee Hy sý doel wil bereik nie.
Dan word ons te belangrik, en ons verloor die perspektief hóékom ons dien.
Hy moes Jakob op die heup slaan, en Moses het gehakkel.
Dawid se owerspel het hom teruggebring aarde toe na sy suksesvolle veldslae.
Paulus was voortdurend bewus van die doring in sy vlees.
En tog het die Here hulle elkeen op ‘n besondere manier in sy diens gebruik!

Dien die Here in afhanklikheid van Hom.
En onthou dat ons almal wat Hom sáám dien,
maar kleipotte is wat maklik breek.

Ernest