Ons probleem in ons dienswerk vir die Here,
is dat ons van bo af na onder dien.
Ons wat “het”, help hulle wat “nie het nie”,
wat dit ookal mag wees waarmee ons help.
Ons dink van bo na onder.
Iemand wat álles het, het ons hiermee kom help.
Hoe om regtig te dink en te dien.
Dit is die Here Jesus self!
Hy sê in Lukas 22:27:
“Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is,
of die een wat bedien?
Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie?
Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.”
Ons kan selfs in ons dienswerk vir die Here “van die tafel af” wil dien.
Ons wil aan die tafel sit en dien.
Van die tafel af uitdeel.
Van bo na onder.
Die Here kom gee die perspektief.
Jy dien van onder na bó!
Jy respekteer die wat jy dien, en die sáám met wie jy dien.
Ons behoort dit eintlik heel spontaan te kan doen,
met die liefde van die Here, wat die Heilige Gees in ons harte uitgestort het.
Maar omdat ons selfgerig ander wil dien,
word selfs ons dienswerk selfsugtige dien.
Ons dien van bo na onder.
Dit is nie wat die Here van ons vra nie.
Om ander te dien, vra dat ons onsself nederig genoeg sal ag,
dat ons sal opkyk na hulle wie ons dien!
Hulle wie ons dien, sowel as hulle sáám met wie ons dien.
Ons ónder, en hulle bó.
Ons moet soveel respek hê vir elkeen wat ons dien,
en saam met wie ons dien,
dat ons regtig die Hére éérste daarin dien!
Die hartklop van ware grootheid in Christus se oë,
is dat ons ander van onder na bo dien.
Dit vra dat jy klein genoeg sal groei.
Kleiner in eggo, en selfgerigtheid, en eiebelang.
Ons moet ons eie eer en vernaamheid wegpak in dienswerk.
Dan begin ons waarlik dien,
en die ander in nederigheid hoër ag as onsself. Fil. 2:3.
Van onder na bo, en nie van bo na onder nie…
Ernest