Diensbaarheid is die meeste van die tyd ten koste van jouself.
Ons moet mense rondom ons dien, sonder om iets terug te verwag.
Ons moet ook saam met mense dien,
sonder om erkenning te verwag van hulle saam met wie ons dien.

Ons hoor dikwels dat ons moedeloos raak in ons diens,
omdat ander mense nie dankbaar is wanneer ons goeie dinge vir hulle doen nie,
of saam met hulle doen nie.
Ons gee byvoorbeeld vir mense kos,
en hoor dan dat hulle dit verkoop het vir geld vir drank.
Dan is ons so ontnugter dat ons ophou om hulle te dien.
Om te dien is baie keer makliker gesê as gedaan.

Om mense met die gesindheid van die Here Jesus te dien,
vra nie of ander mense dankbaar is nie.
Dit vra ook nie of hulle positief reageer op ons dade van omgee nie.
Inteendeel, die hartklop van Christelike diens,
is om goed te doen aan die wat dit selfs in ons gesigte teruggooi.

Om ander te dien vra selfverloëning aan ons kant.
Dienswerk vir die Here is nie altyd romanties nie.
Dit kan selfs hard wees, en moeisaam,
en dikwels sonder enige erkenning.
Nogtans is die dien van alle mense die hartklop van die Evangelie.
Dit illustreer die onvoorwaardelike liefde van die Here aan alle mense.
Juis wanneer ons goed doen aan mense wat ons beledig,
of ondankbaar is, of deur ander mense afgeskryf word.

Dienswerk is die moeilikste, maar onontbeerlike van die Evangelie.
Sonder die gesindheid van die Here Jesus in ons dienswerk,
is ons maar weer soos die Fariseërs,
wat goed doen aan dié wat aan hulle goed doen.
Om soos die Here Jesus te dien,
is om te dien ten spyte van enige erkenning of dank van enige kant af.
Ja, selfs nie eers dank en erkenning van hulle wat saam met jou dien nie…

“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was….
…Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem…”
Fil. 2:5-7.

Ernest