Diensbaar ná ontnugterings…?

Ons het ontdek dat diensbaarheid makliker gesê as gedaan is.
Ons het ook ontdek dat dit steeds die hartklop is van die Evangelie.
Diensbaarheid en gewilligheid lei tot selfloosheid.
Diensbaarheid vir die Here en mense, lei tot lewensvervulling en lewenssin.
Die grootste geskenk wat jy aan enige iemand kan gee,
is om hom of haar in die Naam van die Here te dien.

Hoe kan ons diensbaarheid behou, en laat groei, en verdiep, tot eer van die Here?
Hier is ‘n klompie praktiese riglyne om te volg:

Evalueer jou gawes en vermoëns wat die Here aan jóú gee. Dien dáármee.
Aanvaar en geniet jou gawes. Wees die beste jý wat jý kan wees.
Gal. 6:4: “Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek:
As dit goed is kan hy daarop trots wees, sonder om dit met die van ander te vergelyk.”
Jy is die enigste en beste jý wat jý vir die Here kan wees, in jóú dienswerk.

Gebruik ook jou lewenservaring, en dit wat die lewe jou geleer het in dienswerk.
Dit is deel van die Here se pad met jou.

Ken en aanvaar jouself. Wil ek alleen dien of saam met ander? Roetine of afwisseling?
Wees gemaklik met wie jy is, en met jou keuses hoe en waar om te dien.

Ontwikkel die gesindheid van ‘n dienskneg. Doen dit doelbewus, deurgaans.
Dink meer aan ander as aan jouself, maar nié minder van jouself as van ander nie.
Moenie jouself met ander vergelyk, of hulle kritiseer, of met hulle kompeteer nie.

Maak jouself beskikbaar vir enige diens, enige tyd, op enige manier.
Die Here wil jou ook onverwags gebruik.
Die grootste geskenk wat jy kan gee is jou tyd en gewilligheid.

Ontwikkel, onder leiding van die Heilige Gees,
‘n oop oog, en oor, en fyn aanvoeling vir nood.

Spandeer tyd in gebed vir jou dienswerk.
Bid vir hulle wie jy dien, en vir hulle saam met wie jy dien.

Doen die beste met dit wat jy het.
Moenie wag tot jy dink jy is goed genoeg nie, of tot jy goed genoeg voel nie.
Jy is reeds goed genoeg, en het reeds genoeg. Gebruik wie jy is en wat jy het.

Moenie dienswerk doen ter wille van erkenning nie.
Bly nederig in dienswerk, en doen dit uit dankbaarheid,
vir wat die Here vir jou gedoen het, en steeds doen.

Dien die Here, in ál jou dienswerk!!

Ernest