Ons kry partykeer ‘n emmer koue water oor ons,
in ons dienswerk vir die Here.
Jy bedoel goed en doen wat jy doen met toewyding,
en kry dan uit die mees onverwagte oord teenstand.
Omdat dit uit die gemeente kom, van mede-lidmate,
raak ons dan maklik moedeloos.

Dit het ook met Paulus gebeur in 2 Kor. 2:5-8,11.
Kom ons lees wat die goeie raad is wat hy aan die gemeente gee:
“Ek moet ook met julle praat oor daardie man wat al die
ongelukkigheid in julle kerk veroorsaak het.
Hy het my voor almal beledig toe ek laas by julle was.
Gelukkig het dit my nie omgekrap nie.
Ek weet egter dat dit julle almal ontstel het-
wel, ten minste die meeste van julle.
Maar moenie julle verder bekommer nie.
Die man het al klaar sy straf ontvang.
Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek.
Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees.
Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee.
Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde.
Hou op om hom nog verder te ontstel,
anders gee hy later heeltemal moed op.
As ons hierdie man nie vergewe nie,
speel ons so reg in Satan se hand.
‘n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed.
Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet.”

Kyk net na die kerngedagtes in Paulus se riglyne en gaan leef dit uit:
Praat oor die probleem.
Behou selfbeheersing.
Moenie bly bekommer nie.
Begelei en vermaan met liefde.
Moenie kwaad bly nie.
Vergewe en wys dat jy omgee!
Besef daar is ‘n groter prentjie – sonde en seer.
Bemoedig – anders gee ons moed op.
Satan speel ook ‘n rol – hy wil ons mislei.
Satan sit nie stil waar ons die Here dien nie.

Bid vir ons bedieninge waarby jy betrokke is.
Bid vir mekaar waar ons saam betrokke is.

Ernest