2 Kor. 3:3:
“…Julle is soos ‘n brief wat in my hart neergeskryf is,
en wat ek elke dag lees.
Natuurlik lees al die ander mense,
wat elke dag met julle te doen het, julle ook.
Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is.
Toe ek daar by julle gepreek het,
het Hy in julle lewe begin skryf.
Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie.
Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik.
Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie,
maar op die tafels van julle hart.
Hy het julle splinternuut gemaak.”

Ons is lewende briewe van Jesus Christus.
Moody het by geleentheid gesê:
“Uit ‘n honderd mense sal een persoon die Bybel lees.
Die ander nege-en-negentig lees die persoon wat die Bybel lees.”

Daar is vier Evangelies: Matteus, Markus, Lukas en Johannes.
Ons is die vyfde evangelie.
Elke kind van die Here is die vyfde evangelie:
Dié Evangelie wat die Heilige Gees elke dag in jou lewe skryf,
en wat ander mense elke dag in jou lewe lees.
Die Evangelie is nie afhanklik van ons nie.
Die Evangelie is ook nie stil sonder ons getuienis nie.
Maar, dit beteken verseker God wil ons gebruik.
Hy wil Jesus elke dag so deur jou laat lewe in hierdie wêreld,
dat mense Hóm leer ken, en verstom staan oor wie die Hére is!

Ernest