Ons het dikwels ‘n brandende begeerte om vir die Here te leef.
Maar ons boender halsoorkop in dinge in,
sonder om mooi by die Here te hoor wat die Hére se wil is!
Ons moet éérs bid, lees, stilword by Hom, nadink,
totdat Hý ons duidelik lei.
Tyd wat jy hieraan afstaan is nooit verspeelde tyd nie.
God is nie haastig nie. Ons is.
Ons is heel dikwels haastiger as wat God ons wil hê.
Hulle sê dat die woord “sabbat”, in sy basiese vorm,
beteken “om jou asem terug te kry”.
Ons leef so in die geraas en gehaas, dat ons nie die Here hóór nie.
En heel dikwels heeltemal verkeerd hoor…
Ons hardloop verby al die sabbatsgeleenthede saam met die Here.

Die groot geestelike leiers het deur die eeue tyd afgesonder
om opnuut deur die Here gefokus te raak.
Die sogenaamde “woestynvaders” het letterlik in die woestyn gaan bly.
Jesus het ook woestyn toe gegaan.
Selfs moderne geestelike leiers toon een merkwaardige ooreenkoms.
Hulle maak tyd vir stilte en afsondering saam met God.

As Christus in ‘n tyd toe daar nie motors, vliegtuie, selfone en e-posse was nie,
tyd gemaak het om af te sonder –
wie is ons dan om dit in die dolle gejaag van ons dag,
as oorbodig en onbelangrik te beskou?
Dink mooi oor twee dinge:
Christus het ons lief en wil vanselfsprekend tyd saam met ons deurbring.
Dit is binne die ruimte van stilwees en saamwees,
dat God sy visie met jou deel.

Psalm 1:1-2:
“Dit gaan goed met die mens ….
wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.”

Ernest