Die koninkryk van God…en ek….
Dikwels funksioneer ons denke andersom:
Ek…en die koninkryk van God.
Dit is soos die ou swartborde waarmee ons skoolgegaan het.
Ons lewens is so vol geskryf van al ons eie belange,
dat daar nie plek is om God se koninkryk-belange in te skryf nie.
Dan neem jy die “wisser” en maak die bord skoon…vee die kryt af.
En wanneer die bord skoon is,
kan jy weer duideliker sien wat en waar God wil skryf,
op die swartbord van jou lewe.
Ons eie belange en eie ego laat ons die swartbord van ons lewe vól skryf.
Selfs as ons woorde soos “geleentheid” en “visie” raaksien,
dan wonder ons wat dit vir onsself kan inhou.
Ons dink nie koninkryk-gerig nie.
So mis ons Godgegewe geleenthede,
en visie vir sý koninkryk, wat Hý wil gee.
Edward Schillebeeckx skryf oor hoe Jesus geteken word in die Bybelboek Hebreërs.
Naas die Verlossingsrol wat Jesus op aarde kom vervul het,
staan twee aspekte van Jesus se lewe uit:
Sy getrouheid aan God die Vader en sý wil, en
Sy omgee, empatie en solidariteit met mense, veral lydende mense.
Dit is Wie Jesus op aarde is!
Wanneer ons opkyk na ons Vader, vir sý wil in ons lewe,
dan is dit duidelik dat ons nie eiebelang op die tafel kan plaas nie.
Dink aan mense soos Moeder Teresa, Franciscus van Assisi, Albert Schweitzer.
Die visie wat hulle van God ontvang het,
het ‘n baie beter plek van hierdie wêreld gemaak.
Hulle het egter nooit in die eerste plek gedink dat hulle hul
eie wêreld en lewe ‘n beter plek wil maak nie.
Begin groot droom en dink oor wat Gód deur jóú wil doen,
deur jou sélf en jou eie toekoms uit die scenario te haal.
Wat is regtig vir jou belangrik, in jou verhouding met God,
ter wille van sy koninkryk?
Ons fokus heeltemal te veel op “leer” en te min op “lewe”.
Dit is vir ons lewensbelangrik dat iets “net reg” moet wees, of “net verkeerd”.
Intellektuele kennis en -oefening het belangriker geword,
as ‘n egte lewe van selfverloëning en dienslewering.
‘n “Heel” teologie het belangriker geword as heel harte,
wat met God se oë en deernis na mense kyk.
Ons is geroep om diensbaar te wees, met Jesus se liefde.
Dit is nie ‘n stukkie opoffering hier en daar om ons gewete te stil nie.
God het jou nie gered, en wil jou nie visie gee, om ‘n sensasie te word nie.
Hy red jou sodat jy ‘n dienskneg in sy koninkryk kan word.
Malcolm Muggeridge skryf tydens die lewe van Moeder Teresa:
“Toekomstige geslagte sal moet besluit of sy ‘n heilige was.
Al wat ek kan sê, is dat sy nóú in donker tye ‘n helder lig is;
in wrede tye ‘n vergestalting van God se evangelie van liefde;
in ‘n Godlose tyd beelddraer van die Woord geword het,
wat onder ons woon, vol genade en waarheid.”
Beywer jou allereers vir die koninkryk van God, en vir die wil van God,….
Matteus 6:33.
Ernest