Jou identiteit is in Christus
2 Kor. 5:17-18 sê:
“Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit alles is die werk van God….”
Ons beoordeel onsself en ander baie meer op die uiterlike, as op die innerlike.
Wanneer Samuel ‘n nuwe koning in Saul se plek moet salf,
dan kyk hy ook na die uiterlike, en dink dit sal Eliab wees.
Maar in 1 Sam. 16:7 het die Here vir Samuel gesê:
“Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie,
want Ek het hom nie gekies nie.
Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie.
Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
Sedert sowat 180 jaar gelede is glasspieëls goedkoop beskikbaar.
Dit het baie aan die mens se selfbeeld begin doen!
Jy hoef net in ‘n gimnasium te oefen,
om te sien hoe die mense hulle, in die spieëls, in hul voorkoms verlustig.
Mens kan eintlik nie dink hoe dit sou wees as jy jouself maar selde kon sien nie.
Maar juis dit het gemaak dat mense baie minder selfbewus was,
en, ironies genoeg, juis meer hulleself was!
Fotografie het nog verder bygedra daartoe,
dat ons heeltyd bewus wil wees van ons voorkoms.
Dit is hoekom mense in die outydse fotos juis nie wou poseer nie.
Maar nou het ons so bewus geraak van ons voorkoms,
dat ons, voor die kameras, selfs houding inneem.
Om nie eers te praat van “photoshop” nie.
Daar het met dit alles ‘n skeiding gekom tussen wie ons ís,
en wie ons vóórgee om te wees. Dit het erg begin raak.
Die media, moderne vermaak,
en sosiale netwerke met al die fotos, en “profile” fotos,
maak ons buitengewoon bewus van onsself,
van wat ons veronderstel is om te wees,
veronderstel is om te doen, en hoe ons moet lyk!
Ons gee voor, en leef “in die ander se oë ”.
Die vraag het geword: “Hoe lyk ek?”, in plaas van “Wie ís ek?”
Ons onderdruk ons ware self, en ‘n vals self word uitgeleef.
So mis ons die vryheid van ons identiteit in Christus.
Om ons ware self te wees, wat God so goed gemaak het,
en selfs in Christus kom herskep het,
om te wees wíe Hý wil hê ons moet wees.
Ons teksvers sê “dit is alles die werk van God”!
Wees die mens wat Gód jou maak om te wees!
Ernest