Swem teen die stroom…

Ons is nie doelbewus en moeilik altyd stroomop nie.
Dit is nie die rol van kinders van die Here nie.
Sommige mense is altyd stroomop.
Wat beteken dit dan, om as Christen teen die stroom te swem?

Christene leef en tree op vanuit ‘n ander perspektief as die wêreld.
Ons wil, onder leiding van die Heilige Gees,
‘n visie uitleef vir die koninkryk van God.
Dit het dikwels ingrypende implikasies.
Ons ondervind weerstand, aanvegting, spanning, en konflik.
Dikwels is bestaande gedragspatrone en kodes, ook by medegelowiges,
so sterk gevestig, dat mense wat saam met ons die Here dien,
dit eenvoudig nie wil verander nie.
So ‘n sisteem het dan ‘n lewe van sy eie!
Die sisteem wil homself teen elke prys handhaaf en in stand hou.
Alles het nog altyd so gewerk, of is nog altyd so gedoen.
Dít is hoe ons die Here dien….

Die grootste voorbeeld van Iemand wat in opstand gekom het teen die sisteem,
ter wille van die koninkryk van God, was natuurlik die Here Jesus self!
Die Jode het ook gedink hulle beywer hulle vir die koninkryk van God.
Hulle het ook ‘n besliste idee gehad wie die Messias vir hulle moes wees,
en watter rol hy vir hulle moes kom vervul.
C.S. Lewis skryf hieroor dat die Jode die Here móés doodmaak,
sodat hulle eie idee van die Messias kon bly voortleef.
Hulle was in die stroom…..stroomaf.
Die Here het teen die stroom kom swem,
ter wille van die koninkryk van God.

Dit is ook wat van ons as kinders van die Here verwag word.
Ons moet ons allereers beywer vir die koninkryk van God, sê Matteus 6:33.
Dit gaan nie oor eie eer, status, roem, of plesier nie.
Soos Nehemia, moet ons bou aan die “muur”, die koninkryk van God.
En wanneer hy dit vir die Here doen, kry hy die grootste teenstand,
veral van Sanballat en Tobija,self Jode met húlle agenda…

Bid dat die Here jou lei om nie net altyd stroomop te wees nie,
maar ter wille van sý koninkryk stroomop te swem!
Bid dat die Gees jou lei om te onderskei waarop dit regtig aankom,
of jy dit ter wille van God se koninkryk doen, of ter wille van jouself.
Die eerste swart speler wat Wimbledon sou wen, Athur Ashe, het gesê:
“As jy nie van die wind in jou gesig hou nie, sal jy nooit kan vlieg nie.”
Wanneer jy die Here dien, sal jy die wind van voor kry,
maar juis dit laat jou vlieg!

Ernest