Wat ons ookal doen, ons doen dit vir die Here.
Dit is nie altyd maklik nie.
Paulus skryf in 2 Kor. 6:7-8 daaroor.
Hy sê dat, by al die moeilikhede,
ons tog optree in die groot krag wat God gee.
Met die Evangelie as wapen durf ons die wêreld aan.
Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word.
Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep.
Tog neem Paulus nie ‘n martelaarsfiguur aan nie.
Hy sê hierdie treffende woorde in vers 10:
“Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde.
Ons werk immers vir God aan Wie alles behoort,
en wat ons oorlaai met sy goedheid”.
Ons werk immers vir God….
In 2 Kor. 7:5-7 praat Paulus ook só daaroor:
Hy sê toe hy in Masedonië aangekom het,
het ‘n klomp probleme op hom gewag.
Maar toe gebeur daar ‘n wonderwerk!
Hy sê in vers 6-7:
“Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel
wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was.
Hy het my bekommernis in ‘n oogwink weggevat toe Titus skielik daar opdaag.
Hoe bly was ek toe Titus my vertel hoe julle hom met oop arms ontvang,
en hoe julle hom opgebeur het. Titus het bygevoeg dat julle jammer is
oor alles wat vroeër tussen ons skeefgeloop het, en dat julle oor my bekommerd is.
Ek kan nie vir julle sê hoe bly ek was oor dié goeie nuus nie.”
Duidelik nie altyd maklik om vir die Here te doen wat jy doen nie.
Paulus vertel hier van sy eie probleme daarmee.
Maar let op hoe Paulus ook die vreugdes uitlig!
Die vreugdes van herstelde verhoudings tussen mense,
wat saam vir die Here wil werk.
Dinge is weer reg tussen Paulus en die Korintiërs.
Daar is ook weer vertroue tussen hulle.
Vergifnes vra ook weer, en bring ook weer, vertroue in mekaar.
Ons kan tog nie wéér sáám werk vir die Here as ons nie vertroue in mekaar het nie.
Onthou by al die dinge wat ons spoed gee, en wat ons spoed breek:
“Ons werk immers vir God aan Wie alles behoort,
en wat ons oorlaai met sy goedheid!” – 2 Kor. 6:10.
Ernest