Sommige gelowiges vertel hoe hulle van die een oorwinning na die ander lewe.
Jy kry die gevoel dat geloof vir hulle maklik is, en dat hulle so ‘n trappie bo jou glo.
Maar die Bybel vertel ook gereeld van mense wat worstel in hulle geloof.
Mense wat selfs die sin van die lewe gemis het,
en toe weer van voor af God se hart moes ontdek.
En ook van gelowiges wat dikwels stroomop moet glo, nie maklik nie.

Geloof is nie altyd maklik nie.
Daar is nie maar net ‘n paar stappe wat jy moet volg nie.
En partykeer slaan die lewe jou hard, en voel dit of God sy rug op jou draai.
Kitsoplossings word dikwels soos ‘n wortel voor ons neus gehou.
Maar dit is nie so eenvoudig en maklik nie.
Ware geloof vra ook dat jy God trompop moet kan nader,
en eerlik met Hom moet kan praat, oor jou frustrasies, twyfel, kleingeloof…

Ware geloof vra ook om die wêreld vierkantig in die oë te kyk.
Ware geloof is nie ‘n ontsnaproete uit die harde werklikheid van hierdie lewe nie.
Ware geloof help jou juis om die lewe vierkantig in die oog te kyk,
en deur die pyn en onsekerheid daarvan saam met Christus te leef.

Ons het vuisvoos geraak vir ‘n plastiekgodsdiens,
wat net die een kitsantwoord na die ander gee,
en heeltyd vertel hoe maklik dit is om te glo,
en hoe voorspoed jou sal agtervolg as jy net rég glo.

Die ware Evangelie, die Woord van God,
hou verseker rekening met die swaarkry, onsekerhede,
vrese, skuldgevoelens, en intense pyn van die lewe.
Dit is juis hierin waar ons geestelike verdieping op ‘n ander wyse beleef,
as net in voorspoed en geluk.
By God is daar inderdaad plek vir twyfelaars en worstelaars.
Goddank!

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Heb. 11:1

Ernest