Die meeste van ons dink daar is Christene met “groot” geloof,
en ander Christene met “klein” geloof.
Ons hoor ook dikwels mense praat van “diep gelowiges”.
Dit laat ons dan voel dat ons tekort skiet in ons geloof.
Wie is, in God se oë, die “groot” gelowiges en wie die “klein” gelowiges?
Dit is bevrydend om te weet dat God nie sulke
onderskeidings maak ten opsigte van sy kinders nie.
Of jy soos die halsstarrige gelowiges in Korinte glo,
of soos die “modelgelowiges” in Tessalonika,
jy is nog steeds ‘n tempel van die Heilige Gees.
Vir God staan al sy kinders ewe naby aan Hom.
Dit is in die wêreld waar ons in rye wil staan,
en dink sommige is belangriker as ander.
Belangrik is dat ons ‘n slag reg oor ons eie geloof moet dink.
Moenie minderwaardig oor jou eie geloof dink nie.
Dit is nie jou prestasie nie.
Geloof is ‘n gawe van God.
Jakobus skryf hieroor om ons te help.
In Jakobus 5:16-18 skryf hy:
“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.
Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie,
en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.
Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.”
Jakobus sê Elia was ‘n mens net soos ons!
Doodgewone gelowiges se gebed het ‘n groot uitwerking.
Het Jakobus ‘n fout gemaak dat Elia “’n mens net soos ons” is?
Nee. 1 Konings 19 vertel hoe Elia ook met “min” geloof onder ‘n bos gaan lê het,
en gewens het om dood te gaan!
Tog gebruik God sy gebede. Nie omdat Elia in ‘n hoër liga geglo het nie,
maar omdat hy bereid was om God op sy woord te neem.
Hou op om min van jou geloof te dink.
God skenk jou die gawe van geloof.
God dink so baie van jou dat Hy jou sy kind noem.
Hy het sy eie Naam op jou voorkop gegraveer – Openbaring 14:1.
Hy tel jou op in sy hand – Johannes 10:28-29.
Gaan toets wat die Here met jou “gewone” geloof wil doen.
Neem Hom net op sy woord.
Ernest