Daar is nie iets soos geheime Christenskap nie.
Of geheime dissipelskap nie.
Of die “geheime” vernietig die dissipelskap.
Of die dissipelskap vernietig die “geheime”.
Mens kan verseker nie in die geheim ‘n kind van die Here wees nie.
Lig is een van die moeilikste goed om weg te steek.
En Matteus 5:14 sê: “Julle is die lig vir die wêreld.”
Verder sê vers 16 dan hierdie baie belangrike ding oor ons wat die lig is:
“’n Mens steek nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie,
maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.”

Ons moet drie belangrike dinge onthou:

Jou lig is vir die wêreld.
Vers 14 sê ons is die lig vir die wêreld,
nie in die eerste en laaste plek vir die gemeente nie.
Baie mense laat hul lig net in die kerk skyn.
Ons Christenskap moet oral sigbaar wees.
Hoe jy ‘n winkelassistent, kelner, of bedelaar hanteer.
Hoe jy sport beoefen, en jou werk.
Hoe jy om die braaivleisvuur saam met vriende praat,…oral.

Jou lig is ‘n gids.
Ons moet deur ons voorbeeld lig bring in die duisternis.
Ons moet soos ‘n lig voor in die pad wees, wat deur almal gevolg kan word.

Jou lig is ook ‘n waarskuwing.
Jou lig is soos ‘n ligtoring wat skepe waarsku teen die rotse en gevare.
Waarsku mense met die liefde en gesindheid van die Here as hul afdwaal.
Waarsku met sagtheid en deernis.

Laat jou lig skyn!

Ernest