Net God alleen kan jou verander van ‘n lewe in die vlees, na ‘n lewe in die Gees.
En Hy doen dit deur die werk van die Gees, die Heilige Gees.
Solank jou vlees nog jou lewe beheer,
kan God jou nie gebruik met die gawes wat Hy aan jou gee nie.

Die vlees is natuurlik ons sondige natuur.
Galasiërs 5:17 sê:
“Wat ons sondige natuur begeer,
is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil,
is in stryd met wat ons sondige natuur wil.
Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar,
en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.”
Eers wanneer die Here ons vlees, ons sondige natuur gebreek het,
kan Hy deur ons Godgegewe gawes na ander werk.

Hoe breek die Here ons vlees?
God begin ons van binne pols deur sy Gees.
Terselfdertyd laat Hy omstandighede van buite toe om ons vas te keer.
So word ons vlees verguis, en maak Hy ons vry!
Openbaring 3:19 beskryf dit so:
“Soms moet Ek hulle op die regte pad hou,
op maniere wat nie vir hulle lekker is nie.
Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly.”

Ons besef dan dat ons nie in beheer is nie.
Die enigste beheer wat God toelaat is selfbeheersing.
Selfbeheersing wat juis deel is van die vrug van die Gees – Gal. 5:23.
Gaan lewe deur die Gees, en níé deur die vlees…!

Ernest