Die Heilige Gees skep altyd by kinders van die Here
die verwagting dat Goddelike dinge gaan gebeur.
Soos die man wat vertel het dat hy elke keer terugkom na die gemeente,
en na die aanbidding, omdat hy die belewenis het dat die Heilige Gees
iets gaan laat gebeur, en hy wil dit nie mis nie!

Thomas Long het aan ‘n kategeseklas van net
drie dogters vertel van die gebeure van Pinkster.
Hulle het gesê hulle weet nie wat met Pinkster gebeur het nie.
Hy vertel hulle toe van die gelowiges wat in ‘n groepie gesit het.
‘n Rukwind het die vertrek geskud,
en die Heilige Gees het soos tonge vuur op elkeen neergedaal.
Daarna het hulle die Evangelie in al die tale van die wêreld verkondig.

Twee van die meisies het heel kalm geluister.
Maar die derde meisie was heeltemal verbaas, verwonderd, haar oë wyd oop!
“Wow, ds. Long, ek was verseker nie dáárdie Sondag in die kerk nie!”
Dan sê Thomas Long; die treffende van die oomblik is nie dat sy
nie Pinkster verstaan nie, maar dat sy iets van die kerk,
en die werk van die Heilige Gees gesnap het!
Haar verwagting is dat so iets in hul eie gemeente se erediens kon gebeur!
Die verwagting, dat saam met die Heilige Gees enige iets kan gebeur!

Leef jy met so ‘n lewende verwagting saam met die Gees?
“Laat die Gees julle vervul.” Ef. 5:18.

Ernest