Om gelukkig te lewe is om gelukkig te lewe vóór God.
Geluk is nie die wêreldse geluk wat daagliks aan ons bemark word nie.
Richard Rohr noem vyf dinge wat baie belangrik is om gelukkig voor God te lewe:
Die lewe is nie altyd maklik nie.
Ek is nie die spil waarom alles draai nie.
Die lewe gaan oor God en ander mense.
Ek is nie in beheer van sake nie.
Almal van ons leef net tydelik, en ook ek gaan sterf.
Rohr sê die kern van hierdie vyf dinge is dat jy vrede moet maak
met hierdie een en enigste lewe wat jy van die Here ontvang het.
Die groot vraag is dan nie meer of jy gelukkig is nie, maar of jy vry is.
Vryheid is om nie verslaaf te wees aan dinge soos geld,
of die erkenning van ander mense nie.
Dit is om net jouself voor God en ander mense te wees.
Geen wonder so min mense is vry nie.
Ons is lewenslange gevangenis van tydelike behoeftes en begeertes,
en van wat ons dink ander mense van ons sal dink.
Materialistiese hunkeringe bind ons.
Erkenning van ander mense bind ons.
God se wil kan net in ons lewens realiseer as ons onsself ten diepste leer ken.
En dit gebeur net meer en meer in jou verhouding met God.
Niemand wil graag swaarkry of moeilikheid hê nie.
Tog is die lewe nie altyd maklik nie.
Dit help nie om godsdienstige danspassies te maak,
en net maklike antwoorde vir mekaar te gee nie.
Dit neem nie eenvoudig die onsekerhede en die pyn weg nie.
Dood, siekte, pyn, gebroke verhoudings,… is alles deel van die lewe.
“Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,
sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.” – 2 Kor. 4:10.
Vrede kom eers wanneer ons God gedurig, midde-in, ons harde werklikheid ontdek.
Dan vind die soort groei in ons lewe plaas wat ons sorgvry voor God laat lewe.
Ernest