Nie altyd maklike antwoorde nie

Die lewe is eenvoudig nie altyd maklik nie.
Dikwels is die lewe baie hard.
Opeenvolgende dinge gebeur met dieselfde gesin of persoon,
wat jou eenvoudig stomslaan, en sonder woorde laat.
Of dit gebeur met jóú….
Om een of ander rede wil ons dink die lewe moet net maklik wees,
en as iets sleg gebeur, draai die lewe sy rug op jou.
Die lewe is eenvoudig nie regverdig nie. Punt. Ons weet dit.
God is regverdig!....maar nie die lewe nie.
Baie dinge, wat buite God se wil is, het ‘n invloed op ons lewe.
Mense wat buite God se wil lewe. Onsself wat ongehoorsaam is.
En dan gebruik God self ook nog moeilike tye om ons karakter te bou.
Jou karakter is vir Hom belangriker as jou gerief of jou begrip van geluk.

Die lewe is dikwels regtig hard!
Die helde wen nie altyd, soos in flieks nie.
Onreg word nie orals gestop nie.
Mense kom nie altyd weer bo uit nie.
Ons help mekaar met SMS’e en trooswoorde en tekste,
en ons moet voortgaan daarmee,
maar dikwels is dit vir mense net tydelike verligting en troos.

Ons moet met die werklikheid saamleef dat die lewe hard is.
Ons moet dit padlangs met mekaar saamleef.
Ons moet nie eenkant staan en raad skree nie.
Dit is wat die vals profete in Jeremia 23 gedoen het.
Hulle het net goeie nuus bly verkondig,
wat oor die swaarkry gesweef het….asof dit nie bestaan nie.
“Daarom, sê die Here” in Jer. 23:30
“is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê,
en dan voorgee dat dit van My af kom”
Nie geloof, of gebed is ‘n kortpad na geluk toe nie.
Daarom worstel ons dikwels in beide met God.

Die lewe is eenvoudig nie maklik nie.
Wanneer ons hiermee vrede maak,
gaan ons God raakloop midde-in die storms.
Hy ken die swaar meer as wat ons ooit kan dink, glo, of bid.
Sy Seun was in die oog van die storm hier op aarde.
Nogtans het Hy die kruisweg enduit geloop.
Daar was nie uitkoms nie.
Hý is ons enigste hoop in hierdie lewe.

Ernest