Dink net oor wat God in jou lewe gedoen het.
Hoekom is jy nie in Bangladesj gebore nie?
Hoekom nie in ‘n plakkerskamp in Suid Afrika nie?
Hoekom het God jou ouers vir jou gekies?
En die plek waar jy grootgeword het?
Die huis, skole, universiteit,
werk en beroep waarin jy kon wees, of nou in is?
Hoekom is jý so bevoorreg?
Ons weet nie.
Al wat ons weet is dat daar in God se genade
‘n besluit deur Hom geneem is oor jóú.
Nie een van ons verdien enige iets daarvan nie.
Dit beteken ook nie dat God se besluit “verkeerd geval” het
vir die persoon wat in ‘n plakkerskamp gebore is nie!
Dit alles val binne God se misterieuse genadeplan.

Feit is, God het ‘n belegging in jóú gemaak!
Jy het nie daarvoor gevra of daarvoor gewerk nie.
Jy het dit nie verdien nie, en kan nie daarop roem nie.
Die belegging is deur God in jóú gemaak en die vraag is nóú:
Wat gaan jý daarmee vir God doen?
God het dit vir jou gegun, met onverdiende guns,
om daarmee vir Hóm ‘n verskil in hierdie wêreld te gaan maak.

Mense sal oor die waarde van die belegging verskil, maar feit bly:
die belegging is gemaak en ‘n “opbrengs” word verwag.
Ook oor die aard en omvang van die opbrengs sou mense verskil.
Die groot vraag bly: Wat gaan doen jý, met wat God in jou belê?
Ook hierin werk God se genade vrylik. En dit is bevrydend.
God plaas soveel keuses en moontlikhede op jou pad. Jy kán kies.
Die belangrike is om, in jou keuses, die opbrengs tot sý eer te bring.
Die roeping wat Hy vir jou persoonlik gee,
het nie vrede met die status quo van hierdie wêreld nie. Maak ‘n verskil!
Jy is nou suurdeeg, sout, lig! ‘n Belegging met opbrengs vir God!

Moenie God se belegging in jou onderskat nie!
Gaan lewer, in sy krag, die opbrengs van dit wat Hý in jou belê!

Ernest