In die fliek, “Marié, A True Story”, sê die een karakter vir ‘n ander een:
“Evil flourishes when good men do nothing”.
Dit is wat met die wêreld gebeur wanneer Christene,
draers van die Nuwe Lewe, wegkyk van die bose dinge,
of doodgewoon net niks doen nie.

Die Heilige Gees is in ons lewens uitgestort,
om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak,
om die koninkryk van God uit te brei.
Dit gaan nie om ‘n verskil waarby jý kan baat,
en of jy daarom ‘n keuse daaroor het nie.
Handelinge 1:8 sê vir alle gelowiges:
“Maar julle SAL krag ontvang,
wanneer die Heilige Gees oor julle kom,
en julle SAL my getuies wees.”
Jy kan nie anders nie!
Die Heilige Gees doen dit deur jou!
Dit is wat op Pinksterdag 33n.C. gebeur.
’n Paar onseker mense sit in ‘n bovertrek,
en hulle weet nie wat nou verder gaan gebeur nie
Hulle is bang….

Skielik is daar ‘n geluid uit die hemel soos ‘n geweldige stormwind.
Dié wind – die Gees van God – vul die hele vertrek.
En van daar af het daardie mense die wêreld aan die brand gesteek vir Jesus.
Dit is die Heilige Gees in hulle wat dit alles moontlik gemaak het.
Die Heilige Gees is die Herskepper.
Hy verander jou al hoe meer, om die beeld van Christus te vertoon.
Die Heilige Gees is nie tevrede met jou standaarde nie.
Daarom sê 2 Kor. 5:17:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom”.
Die Heilige Gees hou nooit op werk in jou nie!

John Stott, wat al baie mense se lewens aangeraak het,
deur die krag van die Heilige Gees,…
bid elke dag om Gal.5:22-23 uit te leef:
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde,
vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Leef as nuwe mens!

Ernest